Amerikaanse skieter dood wat losbrand in hotel
2012-10-05 11:00
Jerusalem – 'n Amerikaanse toeris wat Vrydag skielik in 'n klein Israelse hotel in die stad Eilat langs die Rooi See op 'n werknemer van die hotel geskiet het, is deur die polisie doodgeskiet.
Die toeris het volgens Reuters en Israel Radio 'n vuurwapen by 'n sekerheidswag gegryp en 'n werker van die hotel doodgeskiet.
Micky Rosenfeld, 'n woordvoerder, het vroeër gesê dat polisielede die hotel omsingel het en dat "'n groot aantal eenhede [ingeroep is] om die situasie te hanteer".
Die skieter het later na die hotel se kombuis gevlug.
"Die skieter het homself in die kombuis toegesluit en was omsingel deur die polisie, insluitend spesiale eenhede, wat hom gevra het om hom oor te gee," het Luba Samri, 'n polisiewoordvoerder, aan AFP gesê.
"Hy het begin skiet tydens onderhandelings met die polisie. Hulle het teruggeskiet en hy is dood," het sy gesê.
Daar is in dié stadium geen duidelikheid oor die motief agter die aanval nie, het 'n polisiewoordvoerder gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP