Amerika speel kinderspeletjies, sê Iran
2011-10-12 16:59
Tehran – Amerikaanse aantygings dat Iran betrokke was by die vermeende komplot om die Saoedi-ambassadeur vir Washington te vermoor, is “kinderagtige speletjies” wat uitgedink is om die Amerikaanse publiek se aandag af te trek, het die Iranse parlementêre speaker Woensdag gesê.
“Die Amerikaners het ‘n simpel speletjie begin. Hulle wil aandag van probleme in hul eie land aflei,” het Ali Larijani volgens Mehr, ‘n Iranse nuusagentskap, gesê.
“Hulle het baie geraas gemaak oor hulle glo mense in hegtenis geneem het wat die Saoedi-ambassade wou opblaas, maar tot hulle weet dat hulle ‘n kinderagtige speletjie begin het.”
“Miskien probeer hulle kunsmatige probleme skep om sodoende probleme in ander streekslande te begin,” het Larijani gesê.
“Ons verhouding met die Saoedi’s is normaal. Daar is geen rede vir Iran om die kinderagtige dade waarvan die Amerikaners praat, uit te voer nie.”
Die aantygings is Dinsdag deur die Amerikaanse departement van justisie en die FBI gemaak.
Volgens ander Iranse media is dit ‘n “bose komplot” om aandag van Amerika se binnelandse probleme te lei.
Die Europese Unie het Woensdag gesê hy is bekommerd dat die aantygings ernstige gevolge kan hê.
“As die aantygings as waar bewys kan word, kan dit ernstige internasionale gevolge hê,” het Maja Kocjancic, ‘n woordvoerder vir Catherine Ashton, die EU hoofdiplomaat, gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP