Algerynse gyselaars as menslike skilde gebruik
2013-01-21 14:00
Manila – Islamitiese militante het buitelandse gyselaars as menslike skilde gebruik om te verhoed dat Algerynse troepe hulle van helikopters af skiet, het ‘n Filippynse oorlewende van die gyseldrama by 'n gasaanleg in dié land Maandag gesê.
Joseph Balmaceda, ‘n pa van vier, sê hy het een Japannese gyselaar gesien wat plofstof om hom gehang gehad het. Balmaceda en ander gyselaars se hande was met kabels vasgebind tydens die nagmerrie by die In Amena-gasaanleg in die Sahara-woestyn, wat Saterdag ná 'n uitgerekte konflik tot ‘n einde gekom het.
“Wanneer regeringstroepe probeer het om ‘n helikopter te gebruik om op die vyand te skiet, is ons as menslike skilde gebruik,” het ‘n getraumatiseerde Balmaceda aan verslaggewers gesê kort nadat hy in Manila aangekom het.
“Ons is aangesê om ons hande in die lug te steek. Die regeringsmagte kon nie op hulle skiet solank ons gyselaar gehou is nie.”
Balmaceda, wat skrape op sy gesig opgedoen en van sy gehoor verloor het, sê hy was die enigste oorlewende uit nege gyselaars wat in ‘n voertuig was wat ontplof het.
Die plofstof is deur die millitante aan die voertuig gekoppel.
Hy sê twee militante het die nege gyselaars na die sentrale fasiliteit van die gasaanleg geneem, maar die bom het ontplof tydens ‘n aanval deur Algerynse sekuriteitspersoneel.
“Die enigste ding wat oor was van die voertuig was die agterste gedeelte van die Land Cruiser,” het die 42-jarige gesê.
“Ek is die enigste een wat oorleef het, want ek was ingewikkel tussen twee spaarwiele. Dit is hoekom ek nog hier is en met julle kan praat.”
Balmaceda sê die twee militante wat die voertuig bestuur het, is ook dood.
“Maar ander mense het op my geskiet. Dit beteken daar was ander terroriste,” het hy gesê.
So ek het sowat 300 meter ver gekruip na waar die regeringsmagte was. En toe ek by hulle uitkom het ek flou geval. Toe ek wakker word, was ek in die hospitaal.”
Die ekstremiste het geëis dat Frankryk sy militêre ingryping in die noorde van Mali staak.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP