Algerynse bloedbad: Franse man skuil 40 uur onder bed
2013-01-18 17:54
Parys – 'n Franse man het gesê dat hy tydens die gyseldrama in Algerië 40 uur onder sy bed moes wegkruip voor hy deur soldate gered is.
Alexandre Berceaux, ‘n werknemer by die gasaanleg wat Woensdag deur ‘n groep militante oorval is, het aan die Europe 1-radiostasie gesê dat die aanvanklike aanval 'n groot skok was omdat die aanleg baie goed bewaak was.
“Ek het amper 40 uur lank in my kamer weggekruip. Ek was onder my bed en ek het planke oral gesit, net vir ingeval. Ek het ‘n bietjie kos gehad, ‘n bietjie om te drink. Ek het nie geweet hoe lank ek daar gaan moet bly nie,” het Berceaux gesê.
Hy sê hy is Donderdag gevind, toe Algerië se weermag die aanleg binnegeval het om gyselaars te red.
Reuters het Donderdag berig dat meer as 30 gyselaars wat by die aanleg aangehou is, dood is in ‘n lugaanval wat deur Algerië se weermag uitgevoer is.
’n Groep van sowat 20 geharde Islamitiese terroriste het 'n groep by die gasaanleg aangehou en geëis dat Frankryk sy militêre operasie in Mali stopsit.
Helikopters is gebruik om die terroriste te aan te val en hul voertuie is ook stukkend geskiet om te keer dat hulle wegkom.
Die groep terroriste is volgens die Duitse nuustydskrif Focus onder die leiding van Mokhtar Belmokhtar (40), ’n Franse burger van Noord-Afrikaanse afkoms wat in Afganistan teen die Russe geveg het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP