Algerië: Gyselaars gedwing om plofstof te dra
2013-01-17 12:30
Parys – Islamitiese millitante wat tientalle Westerlinge by ‘n gasaanleg in Algerië gyselaar hou, het sommige van hulle gedwing om plofstofgordels te dra, het een van die gyselaars aan 'n Franse televisiekanaal gesê.
France 24 het berig die man het laat Woensdag in ‘n oproep aan die kanaal gesê dat die mense wat hulle aanhou swaar gewapen is en hulle dreig om die natuurlike gasfasiliteit op te blaas as die Algerynse weermag probeer om die gyselaars te bevry.
“Hulle het die twee aanlegte op dieselfde tyd aangeval. Hulle het binnegegaan en toe die dag breek het hulle almal laat saamkom,” het die man, wat kalm geklink het, gesê. Dit was die enigste deel van die gesprek wat France 24 uitgesaai het.
Gewapende mans het Woensdag voor sonopkoms die gasaanleg en werkers se huise binnegestorm en ‘n groep wat hulself die “Bataljon van Bloed” noem, het gesê hy hou 41 buitelanders, insluitend Amerikaners, Japannese en Europeërs by Tigantourine, diep in die Sahara, aan.
Die Franse regering het nie bevestig of daar Franse burgers onder die gyselaars is nie.
Europe 1-radio het berig dat daar volgens sy bronne vier Franse burgers onder die gyselaars kan wees.
France 24 sê hy het geen manier om te bevestig of die man met wie hy gepraat het, ‘n werknemer by die aanleg wat anoniem wou bly, onder dwang gepraat het nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters