Al meer lande teen doodstraf
2012-11-20 11:36
New York – 'n Rekordgetal van 110 lande het Maandag 'n resolusie, waarvoor tweejaarliks gestem word, by die Verenigde Nasies se algemene vergadering ondersteun om die doodstraf af te skaf.
Amerika, Japan, China, Iran, Indië, Noord-Korea, Sirië en Zimbabwe was onder die 39 lande wat die nie-bindende resolusie teengestaan het en 36 lande het buite stemming gebly.
Israel het teen sy Amerikaanse bondgenoot gestem om by nasies van die Europese Unie, Australië, Brasilië en Suid-Afrika aan te sluit, wat afskaffing van die doodstraf ondersteun.
Noorweë, wat 'n leidende rol in die veldtog vir die resolusie gespeel het, het op sy Twitter-profiel gesê dat die vermeerdering in ondersteuning 'n "goeie uitslag" is.
By die laaste stemmery in 2010 het 107 lande die resolusie gesteun.
'n Wêreldkongres vir die afskaffing van die doodstraf sal in Junie aanstaande jaar in Madrid gehou word.
Volgens Amnestie Internasionaal het China "duisende" gevangenes in 2011 tereggestel alhoewel dit moeilik is om die presiese getal vas te stel.
Iran, Irak en Saoedi-Arabië is ook lande wat die doodstraf gereeld toepas.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP