Al-Kaïda teiken glo vlugte in Indië
2010-01-22 13:10
Nieu-Delhi – Indië het sekuriteit by lughawens opgeskerp nadat dié land ‘n dreigement ontvang het van ‘n moontlike kapingspoging deur Islamitiese militantegroepe.
Dít kom nadat Indië se Burgerlugvaartowerheid gewaarsku is dat alle vlugte van Air India en ander privaat beheerde lugdienste moontlik deur Al-Kaïda of die Lashkar-e-Taiba-terroristegroep geteiken kan word.
Dié waarskuwing is uitgestuur deur die westelike intelligensie agentskappe, het ‘n plaaslike nuusagentskap berig.
Vlugte vanaf Indië na Bangladesj, Bhutan, Mianmar, Nepal of Sri Lanka kan spesifiek geteiken word.
Moushumi Chakravarty, woordvoerder van die Burgerlugvaartowerheid, het die dreigemente bevestig.
“Hierdie inligting is aan owerhede by die lughawe aangestuur asook ander beamptes by die betrokke lugdiens,” het Chakravarty gesê.
- AFP