Al-Kaïda-hoof in Pakistan dood in VSA-aanval
2012-02-09 12:00
Islamabad – Amerikaanse missiele het Donderdag die lewe van Al-Kaïda se hoof in Pakistan geëis, het amptenare gesê.
Hy was een van die Amerikaners se hoofteikens in die land en is gesoek vir aanvalle wat tientalle mense se lewens geëis het.
Badr Mansoor, wat glo vegters na Afganistan gestuur en ‘n opleidingskamp in die noorde van Waziristan bestuur het, is voor sonopkoms naby die Afgaanse grens dood, het amptenare in Pakistan en ‘n lid van sy groep gesê.
“Hy is oornag in die missielaanvalle in Miranshah dood. Sy dood is ‘n reuse-terugslag vir Al-Kaïda om aanvalle in Pakistan te loods,” het ‘n senior-amptenaar in Pakistan op die voorwaarde van anonimiteit gesê.
Sy dood is deur een van sy ondersteuners bevestig.
“Badr Mansoor is in die missielaanval dood,” het ‘n militant in sy groep telefonies bevestig.
Vier militante is glo in die aanval dood.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP