Al-Assad beweer sy vrou is swanger
2013-01-29 16:05
Beiroet – Bashar al-Assad, die president van Sirië, het aan “onbekende” besoekers gesê sy vrou is swanger met hul vierde kind, het die al-Akhbar-koerant berig.
Intussen het die land in die afgelope 22 maande in ‘n burgeroorlog betrokke geraak, met meer as 60 000 mense wat reeds dood is en meer as 600 000 wat uit die land gevlug het.
Al-Akhbar berig dat al-Assad die nuus met “Arabiese besoekers” gedeel het. Hulle het die uitlatings weer aan die koerant bekendgemaak. Die koerant het nie genoem wie die besoekers was nie, maar sê hulle “stel daarin belang om die werkinge van Siriese besluitneming eerstehands te sien.”
Asma al-Assad, die 37-jarige ma van drie wat in Brittanje gebore is, het in 2000 met Bashar getrou, ‘n paar maande nadat hy aan bewind gekom het.
Gerugte het vroeër die ronde gedoen dat sy in Junie swanger geword het; sommige mense het gesê sy het uit Sirië gevlug. Sy is reeds vir maande nie in die openbaar gesien nie.
Volgens die koerant het die besoekers al-Assad beskryf as baie gemaklik terwyl hy sy daaglikse take in die Rawda-kasteel in die hoofstad Damaskus uitvoer.
Al-Assad het aan die besoekers gesê sy weermag behaal “belangrike resultate” in die geveg teen rebelle in die land.
E-posse wat in Maart uitgelek het, het bekendgemaak dat die presidentsvrou duisende dollar op ontwerpersitems spandeer het, terwyl haar man sy tyd deurbring deur musiek op sy iPad af te laai.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA