Airbus se vlerk ‘geknip’ by skou
2011-06-21 08:08
Le Bourget (Frankryk) – Airbus is ietwat in die verleentheid gestel aan die begin van die lugvaartbedryf se belangrikste gebeurtenis Maandag toe sy voorste super-makrostraler ’n vlerkpunt verloor het en ’n ratkasfout ’n demonstrasievlug in die wiele gery het.
Een van die sterre, Airbus se super-makrostraler, die A380, is op die grond gehou nadat ’n vlerkpunt teen ’n aanloopbaangebou geskraap het. Dit is die jongste in ’n reeks voorvalle wat dié Europese maatskappy tref.
Die vliegtuig se vlerkpunt is Sondag beskadig in ’n laespoed-botsing teen ’n gebou op die lughawe Le Bourget, waar die wêreld se grootste en oudste lugvaart-tentoonstelling plaasvind, het Alexander Reinhardt, segsman van Airbus se houermaatskappy EADS Maandag gesê.
Airbus het gou die straler vir demonstrasievlugte op die lugskou vervang met ’n A380 van die Koreaanse Lugdiens.
In ’n tweede voorval moes die militêre vervoervliegtuig Airbus A400M ’n demonstrasievlug kanselleer weens wat die vervaardiger as ’n klein ratkasprobleem beskryf het. Die vliegtuig het wel tydens die besoek aan die lugskou Maandag van pres. Nicolas Sarkozy van Frankryk ’n oorvlug gedoen.
Ondanks die twee voorvalle het bestellings vir vliegtuie ter waarde van miljarde dollars nogtans vinnig vir die Europese vliegtuigvervaardiger en sy grootste mededinger, Boeing, by die Parys-lugskou ingestroom.
Dit het die twee maatskappye se wedloop om die voorste verkoper van stralers ter wêreld te wees, versnel.
Hemelhoë brandstofkoste en treurige vooruitsigte vir die internasionale lugvervoerbedryf is die dryfkrag agter aankope by vanjaar se skou.
Lugdienste is op soek na goedkoper en skoner maniere om te vlieg, en die voorste uitstallings by die lugskou sluit in biobrandstof- en hibriede-enjins, en ’n sonvliegtuig.
Airbus het Saterdag aangekondig twee van die drie weergawes van sy nuwe breëromp-straler, die A350, sal met sowat twee jaar vertraag word.
Die breër A350-1000 word vertraag tot 2017 om die enjinverskaffer Rolls Royce tyd te gee om ’n kragtiger enjin – wat die straler se vliegafstand sal verleng – te ontwikkel.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger