Air France-vlieëniers veg tot op laaste vir oorlewing
2011-08-08 19:46
Parys – “Wat dink jy? Wat dink jy? Wat moet ons doen?”
Die 37-jarige Air France 447-medevlieënier met meer as 6 000 uur
se ondervinding se planne het opgeraak toe ‘n alarm in die vliegtuig se kajuit vir
die sesde keer in twee minute afgegaan het.
Sy junior kollega, met slegs twee jaar werksondervinding,
was reeds moedeloos terwyl hy die vliegtuig se spoed probeer beheer het.
“Ek het nie beheer oor die vliegtuig nie. Ek het glad nie
beheer oor die vliegtuig nie,” het die jonger, 32-jarige vlieënier gesê.
Die kaptein, met 11 000 uur se vliegondervinding, was aanvanklik nie in die kajuit teenwoordig nie.
“So kom hy?” het die senior medevlieënier gemompel, volgens ‘n
transkripsie van die laaste gesprek wat die vlieëniers met mekaar gehad het
voordat die vliegtuig op 1 Junie 2009 geval het.
Die 58-jarige kaptein het die kajuit tien minute vantevore
verlaat vir ‘n roetine-ondersoek toe die vliegtuig in sy afwesigheid teen meer
as 200 km/h begin val het.
“Wat doen jy…” het hy gesê toe hy na die kajuit teruggekeer
het.
“Wat gaan aan? Ek weet nie, ek weet nie wat aangaan nie,”
het die senior medevlieënier geantwoord.
Met die hulp van die vlugdata-opname wat slegs twee maande
gelede 4 000 m van die oseaanbodem gekry kon word, het ondersoekers vasgestel
die vliegtuig het opgehou om reg te vlieg en was in 'n staaktoestand.
Ondersoekbeamptes het
gesê hulle is steeds stomgeslaan oor waarom die vlieëniers herhaaldelike waarskuwingsalarms
geïgnoreer het.
Hulle het egter ‘n teorie dat die vlieëniers gesukkel het om
te herstel van 'n probleem wat met ys in die lug te doen gehad het en nie
betyds aan die staaktoestand kon aandag gee nie.
Die oplossing vir ‘n staaktoestand is om die vliegtuig se neus te
laat saak om weer lug te vang.
Pleks hiervan het die junior vlieënier, wat gedink het die
vliegtuig vlieg te vinnig, die neus opgetrek om spoed te verminder.
“Ek het ‘n probleem. Ek het nie vertikale spoed nie. Ek het
geen aanduiding nie,” het hy gesê.
Die vlieëniers is nog nie amptelik geïdentifiseer nie.
Die transkripsie wys dat die drie mans tot op die laaste
oomblik daarop gefokus was om die vliegtuig in die lug te hou. Hulle het nooit
die moontlikheid dat hulle en hul passasiers op die punt was om dood te gaan,
bespreek nie.
Die laaste woorde op die opname is dié van die kaptein en
was merkwaardig kalm.
“Tien grade hoogte,” het hy gesê.
Die opname het minder as ‘n halwe sekonde later geëindig.
– Volg Nuus24 op Twitter.