Air France-ongeluk se data skep groot raaisels
2011-05-31 07:50
Pretoria - Die Air France 447-rampvliegtuig het 3,5 minute lank van ’n hoogte van 38000 vt “geval” voordat dit die see-oppervlak op 1 Junie 2009 teen ’n hoë spoed en neus in die lug getref het.
Die vlieëniers het al die moontlike gedoen om die vliegtuig uit ’n staaktoestand te herstel, maar die outomatisering van die stelsels het hulle vermoedelik verhoed om direkte beheer daaroor oor te neem.
Dít is van die afleidings wat gemaak kan word uit inligting van die vlugdata-opnemers wat pas deur die Franse ondersoekspan na dié raaiselagtige vliegramp bekend gemaak is. Die opnemers is onlangs eers op die seebodem gevind. Al 228 mense aan boord het omgekom.
Volgens vlieëniers dui die inligting daarop die vlieëniers het valse lugspoedlesings gekry omdat die lugspoedsensors vermoedelik weens verysing buite aksie gestel is.
Weens die outomatisering het dié lesings teen die vlieëniers se pogings om die vliegtuig weer aan die gang te kry, gewerk.
Die steeds onopgeloste raaisel is hoekom die vlieëniers ná die probleme begin het die heeltyd probeer het om die vliegtuig se neus in die lug te hou. Die normale regstellende optrede sou juis wees om die neus af te druk.
Die ander raaisel is hoe die vlieëniers midde-in ’n geweldige donderstorm en turbulensie beland het, terwyl die bemannings van al die ander vlugte in dié tyd om die storm gevlieg het om dit te ontwyk.
Luidens die ondersoekspan se gegewens was die mees onervare vlieënier van die drie aan boord in beheer toe die krisis ontstaan het. Die kaptein het ’n rusbreuk gehad.
Die passasiers is net meer as twee uur ná opstyging gewaarsku dat die vliegtuig turbulensie binnegaan en dat dit ’n bietjie gaan skud. Kort daarna het die stuuroutomaat (autopilot) en die outomatiese kragbeheer skielik ontkoppel.
Die vliegtuig se staakwaarskuwing, wat beteken dit vlieg te stadig, het twee keer afgegaan. Volgens ervare vlieëniers kon foutiewe instrumentasie dieselfde alarm laat afgaan het.
Die lugspoed op die instrumente het skielik ’n dramatiese daling getoon. Die vlieëniers kon nie enige van die lesings kanselleer of meganies beheer oor die vliegtuig oorneem nie, aangesien dit outomaties is.
“Die vliegtuig het baie vinnig soos ’n blaar begin val,” het een vlieënier verduidelik. Die spoed daarvan was te stadig, hoewel die stu-krag op maksimumspoed was. Die vermoede bestaan ook dat die bemanning teen dié tyd gedisoriënteer kon gewees het weens die turbulensie én die probleme aan boord.
Op die opname sê die vlieëniers kort voordat hulle geval het dat hulle geen geldige lesings meer van die instrumentasie kry nie.
Dit versterk die vermoede dat hul situasiebewustheid sonder ’n sigbare horison in die donker nag zero was.
- Die Burger