Agt sterf in brand by nagmark in Kambodja
2012-12-08 09:50
Phnom Penh – Agt mense, waaronder vier kinders, is vroeg Saterdagoggend dood in 'n brand by 'n gewilde nagmark in die Kambodjaanse toeristedorp van Siem Reap, het die polisie gesê.
Die kinders, wat tussen die ouderdomme van nege en 14 is, het saam met hul gesinne op die boonste verdieping van 'n gebou geslaap toe die brand uitgebreek het, het Sath Nady, polisiehoof in die noordwestelike Siem Reap, gesê.
"Agt mense van twee gesinne het in die brand gesterf. Hulle kon nie betyds uit die gebou kom nie."
Die brand, wat twee uur lank gewoed het, is vermoedelik deur 'n elektriese fout veroorsaak.
Meer as 100 stalletjies by die nagmark, wat aandenkings verkoop het, is verwoes.
Die nagmark is gewild onder toeriste wat die klein provinsiale dorp besoek.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP