Agt kinders beseer ná aanval by dagsorgsentrum
2011-08-29 11:43
Sjanghai – Agt kinders is Maandag in Shanghai beseer toe ‘n werker by ‘n dagsorgsentrum hulle met 'n skerp voorwerp aangeval het, het die plaaslike media berig.
Die aanval het rondom 12:00 by ‘n tydelike dagsorgsentrum in ‘n oostelike buurt van Shanghai plaasgevind, het die Xinmin Evening News op sy webwerf berig.
‘n Vrou wat al verskeie jare by die sentrum werk het ‘n apparaat waarmee kartondose gesny word gebruik om die kinders aan te val, het die koerant berig.
Die kinders was tussen die ouderdomme van drie en vier jaar oud.
“Ouers en kinders het almal ‘help’ geskree,” het ‘n inwoner gesê.
Die verdagte, wat glo psigiatriese probleme het, is reeds deur die polisie in hegtenis geneem, het die koerant berig. Haar naam is nie bekend gemaak nie.
Een van die agt kinders is ernstig beseer. ‘n Plaaslike amptenaar van die hospitaal het aan AFP gesê dat die hospitaal agt kinders van die skool opgeneem het, maar hy wou geen kommentaar lewer oor hul toestand nie.
Die aanval was die jongste in ‘n reeks gewelddadige aanvalle teen kinders by China se skole sedert verlede jaar.
Dit het gelei tot verhoogde sekuriteit en ‘n beroep dat ondersoeke geloods word om die kernoorsake van sulke aanvalle vas te stel.
‘n Man met ‘n mes het in Augustus verlede jaar drie kinders by ‘n kleuterskool in Shandong doodgesteek.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP