Agt betogers deur Siriese veiligheidsmagte gedood
2012-01-10 15:34
Beirut – Agt betogers is dood nadat Siriese veiligheidsmagte op hulle losgebrand het in die Homs-provinsie terwyl hulle protes aangeteken het teen ‘n toespraak deur pres. Bashar al-Assad, het ‘n aktivis gesê.
“Betogings het uitgebreek toe die duiwel (Al-Assad) in Khalidiyeh- en Baba Amr-woonbuurte begin praat het. Dit het sy agente aangemoedig om op die betogers te skiet, waartydens ten minste agt mense dood is,” het Omar Homsi, ‘n Siriese aktivis, gesê.
Volgens Homsi het die betogers krete soos “Na die dood met die duiwel!” geskree.
Al-Assad het Dinsdag gesê dat geen bevel gegee is dat veiligheidsmagte op burgerlikes mag skiet tydens die tien maande lange opstand teen sy regering nie, het AFP berig.
“Volgens die wet kan niemand op iemand skiet tensy dit in selfverdediging is nie,” het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA