'Afluistering was 'n roetine by The Sun'
2011-12-19 23:05
Londen – Die onwettige afluistering van stemboodskappe was 'n roetine by The Sun sowel as by die omstrede poniekoerant News of the World, het die broer van 'n fluitjieblaser Maandag gesê.
Stuart Hoare, broer van die ontslape fluitjieblaser-verslaggewer, Sean Hoare, wat bewerings rondom die wydverspreide News International-afluisterskandaal aan die lig gebring het, het gesê albei koerante wat deur Rupert Murdoch se News International Ltd. gepubliseer word, het die wet as deel van hul "daaglikse roetine" gebreek.
"Die werklikheid is dat afluistering was eie aan die News International-groep," het Stuart in 'n verklaring as getuie gesê wat op die ondersoekspan se webwerf gepubliseer is.
"Ek weet dit is die geval omdat ek en Sean het dit gereeld bespreek en daar is eposse wat sy bewerings kan staaf."
Sean Hoare was die eerste gewese joernalis van News of the World wat gesê het die afluistering van stemboodskappe word wyd gebruik en word selfs deur die News of the World-koerant, onder leiding van die gewese redakteur, Andy Coulson, aangemoedig.
Coulson het vroeër vanjaar weens die skandaal bedank uit sy pos as kommunikasiehoof van premier David Cameron. Hy is ook een van 'n dosyn gewese News of the World-joernaliste wat in verband met die skandaal in hegtenis geneem is.
Sean, wat 'n drankprobleem gehad het, het in Julie vanjaar gesterf.
Stuart het aan die ondersoekspan gesê hy getuig in die saak omdat hy en Sean baie geheime met mekaar gedeel het en hy voel baie sterk daaroor dat iemand sy broer moet verteenwoordig.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP