Afganistan wil Christen-groepe stuit
2010-05-31 10:03
Kaboel. – Afganistan het ’n ondersoek gelas na die bedrywighede van noodlenigingsgroepe nadat ’n Noorweegse organisasie daarvan beskuldig is dat hy die Christelike geloof verkondig, ’n misdaad wat met die dood strafbaar is.
Plaaslike en buitelandse nie-regeringsorganisasies (NRO’s) is betrokke by noodsaaklike humanitêre projekte wat wissel van gesondheid tot onderwys oor Afganistan heen. Sommige Afgane is skepties oor hul motiewe en vermoed dat dit ’n front is om mense tot die Christendom te bekeer.
Die Afgaanse ministerie van ekonomiese sake, waaronder NRO’s val, het gesê hy het ’n kommissie saamgestel om alle NRO’s te ondersoek nadat daar in ’n plaaslike televisieberig beweer is dat Norwegian Church Aid (NCA) die Christelike geloof bevorder.
“Ons is baie, baie ernstig oor die kwessie,” het Sediq Amarkhil, ’n woordvoerder van die ministerie, gesê.
“Indien bewys word dat enige NRO teen die norme en wette van Afganistan en Islam optree en mense tot die Christendom wil bekeer,sal ons dit nie net sluit nie, maar hulle ook aan die geregtelike en wetlike liggame van die regering oorhandig.”
Hoewel ’n beampte van die NCA geweier het om kommentaar te lewer, het ’n ingeligte gesê die kwessie hou verband met ’n ou misverstand oor die vertaling van die organisasie se naam.
Die jongste verwikkelinge volg weke nadat die regering beveel het dat 20 buitelandse hulp- en liefdadigheidsorganisasies gesluit word omdat hulle versuim het om verslae oor hul werksaamhede en geldsake beskikbaar te stel.
Sowat 152 Afgaanse NRO’s is ook opdrag gegee om te sluit.
NRO’s is dekades reeds in dié Islamitiese land bedrywig, waar tienduisende Westerse troepe veg teen insypelaars van die Taliban wat ’n heilige oorlog teen hulle verklaar het.
In 2007 het Taliban-insypelaars 21 Suid-Koreane ontvoer wat die land as deel van ’n kerklike liefdadigheidsgroep besoek het en het hulle daarvan beskuldig dat hulle die Christendom verkondig.
Twee van die gyselaars is vermoor voordat die res vrygelaat is.
– Reuters
- Die Burger