Afganistan: Ses polisiebeamptes beseer in selfmoordaanval
2011-11-07 16:20
Kunduz, Afganistan – Ses polisiebeamptes is Maandagoggend in die noorde van Afganistan beseer toe ‘n selfmoordbomaanvaller homself voor ‘n bejaarde stamlid se huis opgeblaas het, het ‘n amptenaar gesê.
“Ses polisiebeamptes is beseer in die ontploffing, maar Mullah Alam is veilig,” het Mushi Abdul Majid, Baghlan-provinsie se goewerneur, gesê.
Hy het bygevoeg dat twee ander selfmoordbomaanvallers volgens gerugte in die omgewing is.
Alam is ‘n lid van die opkomende tradisionele Loya Jirga groot vergadering wat ‘n besluit sal maak oor ‘n strategiese vennootskap met die VSA en om gesprekke met die Taliban te probeer bewerkstellig.
Taliban-rebelle het gedreig om enigiemand dood te maak wat deelneem aan die vergadering later die maand.
Hulle het ook die beplande strategiese vennootskap tussen die VSA en Afganistan veroordeel en gesê dit doen skade aan Afganistan se soewereiniteit.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA