Afganistan: Selfmoordbom eis 32 in stampvol moskee
2012-10-26 09:23
Kaboel – 'n Selfmoordbomaanval in 'n moskee in Maymana in die noorde van Afganistan het minstens 32 lewens geëis, en 34 mense is ook in die aanval beseer, het amptenare gesê.
Die aanvaller het 'n polisie-uniform gedra. Hy het toegeslaan terwyl die Eid Gah-moskee in die provinsiale hoofstad van die Faryab-provinsie stampvol mense was vir Eid al-Adha-gebede, het Abdul Satar Barez, adjunk-goewerneur van die provinsie, aan die nuusagentskap AFP gesê.
"Altesaam 32 mense is dood weens die ontploffing, inlsuitend 17 burgerlikes en 15 polisielede en intelligensie-beamptes. Die provinsiale polisiehoof, Abdul Khaliq Aqsai, is onder die beseerdes," het hy gesê.
Daar was heelwat ander amptenare van die provinsiale regering in die moskee teenwoordig.
Geen groep het al vir die aanval verantwoordelikheid geneem nie, maar selfmoordbomaanvalle is 'n voorkeurtaktiek van die Islamitiese Taliban, wat pres. Hamid Karzai wil ontsetel.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP