Afganistan: 34 sterf in ontploffings by tempels
2011-12-06 16:41
Kaboel – Minstens 34 mense het op die heilige dag van Ashura gesterf toe twee ontploffings by Afgaanse tempels plaasgevind het, het ‘n polisiebeampte en ‘n fotograaf gesê.
Die ontploffings het Dinsdag in die stede Kaboel en Mazar-i-Sharif gebeur.
Volgens ‘n fotograaf van AFP is minstens 30 mense, insluitende drie kinders, dood toe ‘n massiewe ontploffing by die ingang van ‘n tempel in Kaboel plaasgevind het. Sjiïtiese Moslems het by die pelgrimsoord bymekaar gekom om Ashura te vier.
“ ‘n Selfmoordbomaanvaller het sy plofstof in die Abu-Ul Fazil-tempel gedetoneer,” het die polisie in Kaboel in ‘n verklaring gesê.
‘n Veiligheidsbeampte sê die bomaanvaller het saam met ‘n groep Sjiïtiese pelgrims by die tempel aangekom.
Vier mense het in Mazar-i-Sharif gesterf toe ‘n ander bom naby ‘n tempel in die stad ontplof het. Dit is nog nie bekend of Sjiïtiese Moslems in dié aanval geteiken was nie.
“Dit was ‘n ontploffing, nie ‘n selfmoordbom nie. Dit was plofstof op ‘n fiets...” het Lal Mohammad Ahmadzai, ‘n polisiewoordvoerder vir die noorde van Afganistan, gesê.
Hy sê vier ander mense is in die aanval beseer.
Niemand het tot dusver verantwoordelikheid vir die aanvalle aanvaar nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP