Biskop vertel kinders Kersvader bestaan nie
2010-12-14 22:38
Buenos Aires - 'n Aartsbiskop van die Katolieke kerk in Argentinië het mense stomgeslaan toe hy vir kinders vertel het dat Kersvader nie bestaan nie, maar eerder 'n kommersiële simbool van Kersfees is.
"Dis nie Kersfees nie," het aartsbiskop Fabriciano Sigampa van die stad Resistencia tydens 'n kerkdiens gesê. Hy het daarop aangedring dat kinders nie die viering van Christus se geboorte "met 'n vet man in 'n rooi pak" moet verwar nie.
Sigampa se uitlatings het gekom nadat dit bekendgemaak is dat daar 'n Kersvader in die dorp se binneplein gaan wees wat na kinders se wense sal luister en vir hulle geskenke uitdeel.
Volgens die aartsbiskop moet kinders bewus wees dat geskenke eintlik van ouers en die help van Jesus af kom.
Na die diens het die organiseerders van die Kersvader in die dorpsplein hul plan gekanselleer.
- Sapa-AFP