'Aardbewings is erger as misdaad'
2011-02-23 08:14
Johannesburg - “Aardbewings is erger as misdaad.”
Só het ’n 61-jarige Suid-Afrikaanse vrou wat deesdae in Christchurch, Nieu-Seeland, woon, vertel van die skrikwekkende aardbewing wat hul stad Dinsdagmiddag getref het.
Mev. Smith – wat slegs haar van genoem wil hê – was een van talle Suid-Afrikaanse slagoffers wat in die verwoestende pad van die aardbewing, wat 6,3 op die Richterskaal gemeet het, beland het.
Smith was in ’n gemeenskapsbiblioteek toe die aardbewing die middestad omstreeks 12:45 (Nieu-Seelandse tyd) getref het.
“Daar was ’n harde klapgeluid en toe ruk die aarde sonder ophou – baie, baie erg,” het sy per e-pos aan haar dogter Ingrid, wat in Kaapstad woon, geskryf.
Smith het skuiling gesoek en in die proses haar arm lelik gesny.
’n Paar kilometer weg het Petro van Niekerk (37), ook ’n Suid-Afrikaner, saam met kollegas verbete aan ’n deurkosyn geklou terwyl breekware rondom hulle in hul winkel se uitstalkamer van rakke af getuimel het.
Sy is getroud met Francois van Niekerk (44) en hulle woon in Rolleston, sowat 25 km van Christchurch.
“Alles is stukkend. Ons het geskree en onder die deurraam gestaan totdat die ergste geskud verby was,” het sy gesê.
Van Niekerk en Smith het saam met duisende ander mense in hul motors gespring en die stad probeer verlaat.
Skielik het ’n groot naskok die middestad getref, het Van Niekerk vertel.
“Die gevoel as jy ry en die aarde skud jou kar rond, is onbeskryflik.”
Smith het vertel mense het in die strate van spanning naar geword.
“Dit het my ure geneem om by die huis te kom. Ek moes ompaaie neem en deur riviere van slyk en modder ry.
“Die goeie nuus – en glo my, daar is nie baie daarvan nie – is dat ons huis glad nie skade het nie.”
Mnr. en mev. Smith se woongebied, Brooklands, het erg deurgeloop toe ’n aardbewing die gebied in September verlede jaar getref het.
Infrastruktuur in Nieu-Seeland is Dinsdag baie erg deur die aardbewing geraak.
Volgens Van Niekerk is alle selfoonnetwerke en landlyne oorlaai en is Nieu-Seelanders gevra om die fone slegs in noodgevalle te gebruik.
Die watertoevoer na die middestad is afgesny, ’n groot gedeelte van Christchurch is sonder krag en hulle kan nie eens die toilette gebruik nie, het sy gesê.
“Ons het al by die 20 naskokke gehad. Elke keer as daar ’n naskok is, skrik jy jou boeglam en soek na die naaste deurraam.”
Me. Smith het met behulp van ’n kragopwekker in hul huis die e-pos aan haar dogter gestuur.
“Aardbewings is erger as misdaad – hulle is so kragtig en totaal onvoorspelbaar,” het sy geskryf.
Die voormalige hoogspring-wêreldkampioen Hestrie Els (Cloete), het uit Nieu-Seeland laat weet sy en haar man, die sanger Jurie Els, het glad nie die aardbewing gevoel nie, berig Sarel van der Walt.
“Ons harte gaan uit na die mense op die suid-eiland,” het die tweemalige Olimpiese silwermedalje-wenner gesê.
“Daar is van ons vriende daar. Hulle was maar bang gewees, maar hulle is almal oraait. Gelukkig,” het Els gesê.
- Volksblad