Aardbewing ruk wéér suide van Nieu-Seeland
2012-01-19 14:01
Wellington – ‘n Aardbewing wat 6.1 op die Richterskaal meet het die weskus van Nieu-Seeland se Suid-Eiland Donderdag getref, het geoloë gesê.
Daar was nie ‘n waarskuwing vir ‘n tsoenami uitgereik nie en dit was ook nie onmiddellik bekend hoeveel skade aangerig is nie.
Die episentrum van die aardbewing was by ’n diepte van 18 km sowat 204 km wes van Invercargill, Nieu-Seeland se mees suidelike stad. Die aardbewing het die gebied omstreeks 05:48 getref, het die Amerikaanse Geologiese Opname gesê.
Christchurch, die stad met die tweede grootste bevolking in Nieu-Seeland, wat ook op die Suid-Eiland is, is in Februarie 2011 deur ‘n aardbewing wat 6.3 op die Richterskaal gemeet het, getref. Altesaam 181 mense is dood en byna die hele middestad is verwoes.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP