Aardbewing ruk geboue aan Kaliforniese kus
2010-01-10 13:29
Fresno, Kalifornië - 'n Aardbewing van 6.5 op die Richterskaal aan die kus van Noord-Kalifornië het geboue beskadig, en tot kragonderbrekings in verskeie kusgemeenskappe suid van die grens met Oregon gelei.
Die aardbewing het Sondag om 00:27 MGT plaasgevind, en die middelpunt was ongeveer 35 km van Ferndale, 'n dorp in die Humboldt-distrik, het Amerikaanse owerhede gesê.
Inwoners moes 'n woonstelgebou in die hawestad Eureka ontruim, en 'n kantoorgebou en twee ander sakepersele is onveilig verklaar, het Phil Smith-Hanes, woordvoerder vir die Humboldt-distrik, gesê.
"Volgens ons aanvanklike verslae het ons goed daarvan afgekom, al was dit 'n redelike sterk aardbewing," het Smith-Hanes gesê, en bygevoeg dat die skade Sondag oor die hele distrik beraam sal word.
Volgens owerhede is geen ernstige beserings aangemeld nie. Verskeie mense het egter klein snye en skrape opgedoen as gevolg van gebreekte glas by die Bayshore-winkelsentrum in Eureka, en 'n bejaarde persoon het geval en 'n heup gebreek, het owerhede gesê.
Volgens 'n woordvoerder van die Pacific Gas & Electric-maatskappy, J.D. Guidi, het kragonderbrekings oor groot dele van die Humboldt-distrik soveel as 25 000 mense geraak.
Byna 10 000 mense moes vir vyf uur na die aardbewing sonder elektrisiteit klaarkom, en ander sal die hele Sondag sonder elektrisiteit wees, het 'n ander woordvoerder van PG&E, Janna Morris, gesê.
- AP