Aardbewing ruk Indonesië
2010-04-07 05:11
Sumatra - ‘n Reuse aardbewing het Woensdag langs die kus van die provinsie Aceh op die eiland Sumatra in Indonesië getref. Geen sterftes is aangemeld nie en tsoenami-waarskuwings is ook nie uitgereik nie.
Die 7.6-grootte aardbewing het sowat 204km wesnoordwes van die dorpie Sibolga getref. Die elektrisiteit in dié stad is afgesny en menigte mense het na hoër liggende dele gevlug.
Alhoewel geen tsoenami-waarskuwings uitgereik is nie, het die Stille Oseaan se tsoenamiwaarskuwing-sentrum gesê ‘n plaaslike tsoenami is moontlik.
Volgens die nuusagentskap Reuters was daar reeds drie naskokke.
In Desember 2004 het ‘n 9.15-grootte aardbewing langs die kus van dié land se Aceh-provinsie ‘n tsoenami veroorsaak wat tot die dood van sowat 226 000 mense in Indonesië, Sri Lanka, Indië, Thailand en nege ander lande gelei het.
- Reuters