Aardbewing in VSA beskadig bekende katedraal
2011-08-24 12:00
Washington – Die hooftoring van die Washingtonse nasionale katedraal – die hoogste punt in die Amerikaanse hoofstad – het grootskaalse skade in ‘n aardbewing opgedoen.
Richard Weinberg, woordvoerder vir die terrein, sê die sentrale toring is in die aardbewing beskadig.
Die toring het “grootskaalse skade” opgedoen as gevolg van die aardbewing wat Dinsdag die Amerikaanse ooskus getref het, het Weinberg aan die nuusagentskap AFP vertel.
Die aardbewing was een van die sterkste skuddings wat die Amerikaanse ooskus in dekades getref het.
Weinberg sê dele van die toring se toppunte het afgeval. Hy het bygevoeg dat die katedraal ook “kleiner strukturele skade” opgedoen het.
Hy sê deskundiges is besig om die skade te evalueer.
Volgens die woordvoerder is hy dankbaar dat niemand beseer is nie.
Die katedraal is veral bekend as ‘n terrein waar Amerikaanse presidente se begrafnisse gehou word.
AFP het vroeër berig dat die skudding 5.8 gemeet het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP