Aardbewing eis tot 30 000 lewens
2010-01-13 12:00
Erika Gibson
‘n Suid-Afrikaanse noodlenigingspan was een van die eerste internasionale organisasies wat vanoggend reeds begin gereed maak het om in die aardbewinggeteisterde Haïti te gaan help.
Voorlopige beramings dui daarop dat tot 30 000 mense in die ramp gesterf het.
Die noodlenigingsorganisasie, Gift of the Givers, het voorlopig ‘n span van sewe soek- en reddingspesialiste wat na verwagting binne die volgende 24 uur reeds na Haïti sal vertrek.
‘n Span trauma-dokters sal moontlik óf saam met hulle óf kort ná hulle ook vertrek.
Haïti is omstreeks eenuur vanoggend Suid-Afrikaanse tyd deur ‘n massiewe aardbewing, wat 7.0 op die Richterskaal geregistreer het, geruk.
Dit was laatmiddag in Haïti, wat as een van die tien armste lande ter wêreld gereken word. Dit was die ergste aardbewing wat die gebied in meer as 200 jaar getref het.
‘n Hospitaal, die presidensiële paleis, die Verenigde Nasies (VN) se kantore en verskeie ander geboue het eenvoudig ineengestort. Luidens AP was die noodkrete van hospitaalpasiënte, wat onder die puin vasgekeer is, duidelik hoorbaar. Mense het met hul kaal hande begin grawe om die vasgekeerdes te probeer help.
Die elektrisiteitstoevoer en telefoonkommunikasie met die land is kort ná die aardbewing ook onderbreek, wat bygedra het tot die chaos in die land.
Volgens dr. Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers is sy span gereed om te vertrek, maar die logistieke reëlings kan eers getref word wanneer ‘n duideliker prentjie oor die toestande dáár sigbaar raak.
“Ons weet nie of die lughawe toeganklik is nie. Ons weet ook nie of daar geriewe is vanwaar ons dokters kan werk en of hulle sonder geriewe sal moet werk nie.
“Ons soek- en reddingspan bestaan uit dieselfde lede wat in 2006 ook tydens die aardbewing in Pakistan gaan help het. Hulle het dus eerstehandse ervaring oor dié soort omstandighede en watse toerusting hulle moet saamneem.
“Ons prioriteit is nou om eers dié span daar te kry. Ons beplan om afhangend van die skenkings wat ons kan insamel ook noodvoorrade na die gebied te stuur. Dít sal ook bepaal hoe groot ons totale noodlenigingspoging sal wees. Tans is dit bitter moeilik om te bepaal waar die grootste nood is, alhoewel dit blyk asof die hoofstad, Port-au-Prince, die swaarste deurgeloop het.”
‘n Woordvoerder van die VN het luidens AP gesê heelwat van hul 9 000 vredesoldate en personeel in Haïti word tans vermis.
-Beeld