Video: Aanvaller in skare gryp Sarkozy
2011-07-01 07:22
Parys. – ’n Man in ’n skare het die Franse president Nicolas Sarkozy aan die skouer gepluk en hom byna teen die grond gestamp voordat hy deur sekerheidswagte gepak en aangehou is.
Dié ongewone aanvallende optrede het Donderdag gebeur gedurende ’n sessie waar die president in die dorp Brax hande geskud het met lede van dié gemeenskap in die suide van Frankryk.
Die man se identiteit en motiewe vir die aanval is onbekend.
Hy is in die naburige dorp Agen aangehou, het die Franse polisie gesê.
Beeldmateriaal op Franse televisie het getoon hoe Sarkozy oor ’n metaalversperring reik om blad te skud met iemand toe ’n arm sy baadjie gryp en Sarkozy in die rigting van die skare trek.
Sarkozy het sy balans verloor, maar teruggedeins voor hy kon val.
Beamptes het toe die aanvaller getakel. Sarkozy se kantoor wou nie kommentaar lewer nie.
Kyk hier na beeldmateriaal van die voorval.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP