Aanvalle verongeluk Gasa-vredesplan
2012-11-21 11:29
Jerusalem – Hillary Clinton, die VSA se minister van buitelandse sake, sal Woensdag probeer om ‘n skietstilstand tussen Israel en Gasa se Hamas-militante te beding ná aanvanklike onderhandelings misluk het.
Die onderhandelings het deur die mat geval ná geweld weer begin opgevlam het.
Duisende Israelse soldate is tans op die Gasa-grens en wag glo net vir ‘n bevel om die land binne te val.
Clinton en ander diplomate reis tans tussen Jerusalem, Palestina en Kaïro om ‘n oplossing te probeer vind wat vir beide Israel en Palestina aanvaarbaar sal wees.
Sy het Dinsdagaand met Benjamin Netanyahu, Israel se premier, vergader, en sal Woensdag na Kaïro reis.
Israel en Palestina het glo amper 'n ooreenkoms bereik, maar geweld deur die nag het samesprekings verongeluk.
Israel se lugmag het oornag minstens 30 aanvalle op Gasa uitgevoer.
Medici sê die dodetal in Palestina het gestyg tot 138, terwyl vyf Israelse burgers dood is.
“In die komende dae sal die VSA saam met sy vennote in Israel werk om die veiligheid van die mense van Israel te verseker, om die omstandighede van mense in Gasa te verbeter, en om ‘n omvattende vredesooreenkoms vir alle mense in die streek te bereik,” het Clinton Dinsdagaand ná ‘n vergadering met Netanyahu gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP