Aanvalle op Christene neem toe
2009-07-24 10:27
Seoel- Aanvalle op Christene in Noord-Korea het drasties toegeneem sedert die beroerte van die Koreaanse-leier Kim Jong-Il verlede jaar.
Na bewering probeer dié leier steeds sy mag vertoon, ten spyte van sy swak gesondheid, deur gelowiges te teiken.
In een voorval is ‘n 33-jarige vrou in die publiek tereggestel nadat sy Bybels uitgedeel het en glo gespioeneer het vir Seoel en Amerika, het die leier van ‘n koalisie van sowat 50 regtegroepe in Seoel gesê.
Dié vrou se man, ouers en kinders is na ‘n konsentrasiekamp gestuur.
“Daar is ‘n toename in teregstellings van Christene in Noord-Korea. Geloof word hier as ‘n sekuriteitsbedreiging gesien,” het Do Hee-Yun, die hoof van die koalisie van regtegroepe gesê.
“Die klopjag op Christene is sedert verlede jaar aan die toeneem. Daar word maandeliks sowat twee of drie Christene vermoor,” het Hee-Yun gesê.
Na bewering is daar sowat 30 000 Christene in Noord-Korea. Persone wat hulle geloof bekend maak staar swaar strawwe in die gesig.
–Sapa-AFP