Aanval in België: tweejarige veg om sy lewe
2011-12-13 22:50
Liege – Belgiese polisie het gesê die aantal mense wat gewond is in die aanval Dinsdag by 'n markplein in Liege het tot 123 gestyg, waarvan een 'n tweejarige seuntjie is.
Vier mense is in die aanval dood, insluitende die skieter, wat volgens die polisie 'n kriminele rekord gehad het.
Die 33-jarige Nordine Amrani het handgranate na 'n groep mense geslinger en met 'n automatiese vuurwapen op omstanders losgebrand.
'n Vyftienjarige seun het op die toneel beswyk en 'n 17-jarige meisie en 57-jarige vrou is later in die hospitaal dood.
Amrani is voorheen tronkstraf opgelê vir dwelmhandel en die onwettige besit van vuurwapens, het Liege se openbare aanklaer, Daniele Reynders, gesê.
In September 2008 is hy vir 58 maande tronk toe gestuur toe die polisie 'n wapenopslagplek by sy huis gekry het.
Die polisie het 10 vuurwapens en 9 500 parte van gewere saam met 2 800 daggaplante gevind, maar 'n tronk-amptenaar het gesê Amrani is in 2010 vroeg vrygelaat.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP