92 sterf tydens ontploffing by myn
2009-11-22 23:04
Hegang, China - Die dodetal van ‘n ontploffing by ‘n myn in die noordooste van China het Sondag tot 92 gestyg terwyl reddingwerkers vir 16 werkers wat steeds in die myn vasgevang is soek.
Die ontploffing het vroeg Saterdag by ‘n myn in die provinsie van Heilongjiang plaasgevind.
Die hoofingang van die myn is tydens die ontploffing blokkeer en reddingswerkers is met suurstof deur die gange van ‘n naburige myn ingestuur om vir slagoffers en oorlewendes te soek.
Pogings om die 16 werkers wat na bewering steeds diep ondergronds vasgevang is te red het tot laat in die nag aangegaan.
Volgens plaaslike media is die ontploffing 10km ver gehoor en is meer as 60 mynwerkers wat oorleef het ook in die hospitaal opgeneem.
- Sapa