70,000 ontruim in Japan
2010-02-28 07:16
Tokio – Japan het Sondag aan meer as 70,000 mense opdrag gegee om uit gevaarsones te vlug terwyl sirenes gewaarsku het teen ‘n tsoenami langs die land se Pasifiese kuslyn ná ‘n reuse aardbewing in Chile.
"Moet asseblief onder geen omstandighede naby aan die kus gaan nie," het die premier, Yukio Hatoyama, in nasionale televisieboodskappe gewaarsku soos wat 'n tsoenami-brander van 10 cm die Minamitorishima-eiland getref het.
Branders van tot drie meter kan ook die noordelike gebiede van Aomori, Iwate en Miyagi tref, het die Japanse Meteorologiese Agenskap gewaarsku. Dit terwyl vrese vir vernietigende branders oor die res van die Pasifiese Oseaan afgeneem het.
Die agentskap het ook waarskuwings uitgereik vir branders van tot twee meters langs die Pasifiese kuslyn van die Japanse eilandsee, van die noordelike eiland van Hokkaido tot by die suidelike Okinawa-eilandreeks.
Meer as 50,000 mense moes in die noordelike deel van Japan hul huise ontruim, terwyl plaaslike treindienste gestop is.
Volgens Shigeru Suzuki, ‘n plaaslike amptenaar in Miyagi, het hulle nog geen paniek onder mense gesien nie. “Maar ons probeer hard om ‘n gladde ontruiming te bewerkstellig,” het hy aan AFP gesê.
Japan se suidelike eiland Okinawa is Saterdag deur ‘n aardbewing getref wat 7.0 op die Richterskaal gemeet het.
- Sapa