70 Taliban-militante dood in teenaanval
2011-11-09 16:33
Kaboel – Tot 70 Taliban-vegters is dood nadat hulle probeer het om ‘n buitelandse weermagbasis in die ooste van Afganistan aan te val, het ‘n plaaslike amptenaar Woensdag gesê.
Die aanval het laat Dinsdag by ‘n buitepos in die Paktika-provinsie, wat met Pakistan grens en waar talle militante wegkruipplekke het, plaasgevind.
Volgens Mokhlis Afghan, ‘n woordvoerder vir die Paktika-regering, het die aanvallers waarskynlik van die ander kant van die grens gekom.
“Tussen 60 en 70 Taliban-militante is in ‘n gesamentlike aanval deur Isaf (International Security Assistance Force) en Afgaanse militante dood,” het hy gesê.
“Oorspronklike berigte het daarop gedui dat hierdie groot groep militante ‘n Afgaans-Isaf-basis in die Margha-distrik van Barmal wou aanval, maar dat hulle voorgekeer is en hulp is ingeroep.”
Isaf, wat deur Navo gelei word, kon nie die getal oorledenes bevestig nie, maar het gesê daar was ‘n plan om die basis aan te val.
“Ek kan bevestig dat die koalisiebasis in die ooste van Afganistan aangeval is deur rebelle,” het woordvoerder sers. Christopher DeWitt gesê.
Helikopters het die weermaglede op die grond bygestaan om die aanval af te weer en ‘n onbekende hoeveelheid mense is in die proses dood, het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP