7 in Amerika aangekla oor 'Taliban-sameswering'
2011-02-14 23:00
Washington - Sewe mense, insluitende twee Amerikaanse burgers, word aangekla in verband met ‘n sameswering om die Afgaanse Taliban by te staan deur wapens aan die rebelle te stuur en tonne Afgaanse heroïne deur Wes-Afrika te skuif, het beamptes Maandag gesê.
Volgens die Amerikaanse Departement van Justisie word die twee Amerikaners aangekla van sameswering om missiele, gewere en ander wapens aan die Taliban te verkoop sodat die rebelle hul dwelmoperasies kan beskerm.
Die twee Amerikaners, wat as Alwar Pouryan en Oded Orbach geïdentifiseer is, is verlede week in Roemenië in hegtenis geneem en word aangehou om aan Amerika uitgelewer te word.
Vyf ander, wat dwelmoperasies in Benin en elders in Afrika bestuur het, word aangehou in verband met handel in heroïne wat deur die Taliban besit word. Hulle het glo verstaan van die dwelms sou na Amerika vervoer word.
Hulle is in Liberië in hegtenis geneem en sal ook aan Amerika uitgelewer word.
Volgens die departement “was dié poging om die Taliban te verryk en te bewapen ‘n voorbeeld van ‘n wêreld met baie verbindings, waarin terroriste en dwelmhandelaars oor kontinente heen kan saamspan om Amerikaners skade aan te doen”.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP