67 miljoen vasgenael tydens presidensiële debat
2012-10-05 12:15
Washington – Meer as 67 miljoen mense het ingeskakel om pres. Barack Obama se debat met die Republikeine se presidentskandidaat, Mitt Romney, te kyk, het die marknavorsingsmaatskappy Nielsen gesê.
Volgens die maatskappy is dit die grootste gehoor in 20 jaar.
Sowat 67,2 miljoen mense, waarvan 46% ouer as 55 is, het die debat, wat Woensdagaand regstreeks uit Denver, Colorado, uitgesaai is, gekyk.
Dít is 28% meer as die 52 miljoen wat in 2008 ingeskakel het om Obama se debat met die Republikein John McCain te kyk. Dit is ook die grootste gehoor sedert 69,9 miljoen mense die Demokraat Bill Clinton, die Republikein George H.W. Bush en Ross Perot in Oktober 1992 gekyk het.
'n Rekordgetal van 80,6 miljoen mense het op 28 Oktober 1980 die debat van pres. Jimmy Carter en die Republikein Ronald Reagan regstreeks op die drie groot Amerikaanse netwerke gekyk, het Nielsen gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP