6 Polisielede dood, 27 beseer in Irak-aanval
2010-08-07 12:25
Baghdad - Ses polisiebeamptes is dood en 27 is beseer in ‘n reeks aanvalle op sekuritetsmagte in Baghdad en Fallujah, het amptenare Saterdag gesê.
Die aanvalle het laat Vrydag en vroeg Saterdag gebeur.
Vier polisiebeamptes is in die suidweste van Baghdad dood tydens ‘n skietgeveg met oproeriges, het die Aswat al-Iraq-nuusagentskap berig.
Nog tien beamptes is in die skietery gewond.
In die noordweste van die stad is ‘n verkeersbeampte dood en twee ander mense beseer toe militante inwoners op hulle geskiet het.
In Fallujah is ‘n polisiebeampte dood en drie beseer toe militante inwoners op die wagpunt waaroor hulle gewaak het, geskiet het. ‘n Soektog is geloods om die vermeende aanvallers te vang.
Ook in Fallujah, wat sowat 70 kilometer wes van Baghdad geleë is, het militante inwoners die huise van vier polisiebeamptes opgeblaas. In hierdie aanval is 12 mense beseer.
Oproeriges het dit nou gebruiklik gemaak om die huise van militêre beamptes en polisiebeamptes in die gebied op te blaas.
- Sapa-DPA