59 lyke in massagrafte gevind
2011-04-07 23:00
Mexiko Stad - Minstens 59 lyke is in agt massagrafte in die dorp San Fernando in die noordoostelike staat Tamaulipus in Mexiko gevind, het die owerhede gesê.
Die grusame ontdekkings is Woensdag gemaak in dieselfde dorp waar die lyke van 72 migrante, meestal uit sentraal-Amerika, in Augustus gevind is nadat hulle deur misdaadbendes uitgemoor is.
“In die eerste ses grafte is 11 lyke gevind. In die sewende graf het ons 43 lyke gevind en in die agtste was daar nog vyf,” het die departement van justisie in Tamaulipas in ‘n verklaring gesê.
Elf verdagtes is in hegtenis geneem in verband met dié massagrafte. Die polisie het ondersoek ingestel nadat ‘n klag op 25 Maart aanhangig gemaak is oor die beweerde ontvoering van ‘n getal mense wat per bus gereis het.
Volgens die owerhede sal forensiese toetse toon of die lyke dié is van die mense wat op die bus was.
Mexiko word die afgelope paar jaar geteister deur ‘n geweldige toename in georganiseerde misdaad. Meer as 15 000 mense is in 2010 in voorvalle van dié geweld dood.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA