52 Kinders van prostitusie gered
2009-10-26 23:20
Washington – Amerikaanse owerhede het sowat 52 kinders vanuit die kloue van prostitusie gered en sowat 700 mense in hegtenis geneem gedurende ‘n landwye operasie,” het die federale speurdiens (FBI) Maandag gesê.
Die drie dae lange ondersoek wat oor sowat 36 stede uitgevoer is, het “ 52 kinders, wat blootgestel word aan prostitusie” van die strate gered.
Sowat 700 sekswerkers is in hegtenis geneem, insluitend dié wat in koppelary betrokke is, het die FBI gesê.
"Kinderprostitusie is ‘n groot probleem in ons land," het Kevin Perkins, assistent-direkteur van die FBI se misdaad-afdeling gesê.
Dié ondersoek wat sowat 72 ure geduur het, is deel van die FBI se program wat as Innocence Lost bekend staan.
Sedert 2003 is daar minstens 900 kinders van die strate gered en 510 verdagtes is in hegtenis geneem en skuldig bevind.
Die jongste slagoffer wat van die strate verwyder is, is slegs 10 jaar oud gewees. Die res van die 52 kinders was tienermeisies onder die ouderdom van 18 jaar.
-Sapa-AFP