52 000 Indiese kinders is MIV-positief
2009-07-29 18:40
Nieu-Delhi, Indië – Meer as 52 000 kinders in Indië is MIV-positief
Gulam Nabi Azad, Indië se minister van gesondheid, het Woensdag gesê 2 253 gevalle van MIV-positiewe kinders is in 2006 aangeteken.
Die getal het in 2008 tot 19 116 gestyg.
“Die aantal MIV-positiewe kinders het in Mei 2009 op 52 973 gestaan,” het Azad in die parlement gesê.
Die minister het bygevoeg dat meeste van die kinders die virus voor geboorte van hul ma's kry.
Hy het ook gesê dat ‘n spesiale program reeds in 2002 geïmplementeer is om hierdie oordrag te voorkom.
Tamil Nadu, in die suide van die land, het die meeste nuwe gevalle van MIV-positiewe kinders (2 651) aangemeld, gevolg deur Maharashtra met 1 269 gevalle.
Die Indiese regering beraam dat daar 2,5 miljoen gevalle van MIV/Vigs in Indië is.
- Sapa-dpa