500kg kokaïne gevind
2009-08-12 11:37
Athene – Griekse polisie het Woensdag gesê hulle het sowat 500kg kokaïne wat op ‘n vragskip in die land se hoof hawe, Piraeus, was in beslag geneem en ses lede van ‘n internasionale dwelmsmokkelary groep in hegtenis geneem.
Polisie het die vragskip, wat onderweg was na Bulgarye, deursoek ná Amerikaanse owerhede verlede maand laat weet het dat daar beweer word dat die skip dwelms van Colombia af smokkel.
Colombia is die wêreld se grootste vervaardiger van kokaïne.
"Dit is een van die grootste hoeveelhede kokaïne wat nog in Griekeland in beslag geneem is”, het ‘n polisiebeampte gesê.
Vyf mans is in Athene in hegtenis geneem en ‘n vrou is in die noordelike stad van Thessaloniki gevang.
-Sapa