5 dood, 2 beseer toe vliegtuig neerstort
2010-06-18 01:58
Ruidoso, Nieu-Mexiko - Amerikaanse owerhede berig dat 'n vliegtuig Donderdagoggend neergestort het in die staat Nieu-Mexiko.
Vyf passassiers is in die ongeluk dood.
Lynn Lunsford, woordvoerder vir die Federale Lugvaartadministrasie, sê hy het nog geen inligting oor die vlugplan vir die dubbel-enjin Cessna 310 nie.
Die vliegtuig se nommer dui daarop dat dit onder die naam van die maatskappy Rod Aviation in Texas geregistreer is.
Polisie en noodpersoneel van Lincoln County sê vyf mense is dood en twee ander beseer toe die vliegtuig die aanloopbaan van die Sierra Blanca-streekslughawe naby Ruidoso, suid van Albuquerque, verbygeskiet het.
Volgens Travis Atwell, 'n nooddienste-bestuurder, is twee mense uit die wrak getrek, en na 'n nabygeleë hospitaal geneem.
Hy sê dis te vroeg om te bepaal wat die oorsaak van die ongeluk was.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP