42 sterf ná vliegtuig in China val
2010-08-24 21:05
Beijing – Twee en veertig mense is dood nadat ‘n Chinese passasiersvliegtuig Dinsdag die aanloopbaan van ‘n lughawe in die noordooste van die land gemis en aan die brand geslaan het.
Volgens die staatstelevisie is 49 van die 91 passasiers wat aan boord was, gered.
Die noodlot van die ander passasiers was nog nie bekend nie.
Die Henan Airlines-vliegtuig het inYichun in die Heilongjiang provinsie neergestort, het die Xinhua nuusagentskap berig.
Hulle het verder gesê dat minstens 20 mense gehospitaliseer is.
Wang Xuemei, adjunk-burgemeester van Yichun, het gesê dat drie van die 49 wat gered is in ‘n kritieke toestand is, maar hy wou geen verdere besonderhede bekend maak nie.
Die brand is reeds geblus.
Die vliegtuig het van Harbin, die hoofstad van Heilongjiang, vertrek en tydens die landingsproses by die Lindu-lughawe neergestort.
‘n Amptenaar van die Yichun No. 1 People's Hospital het gesê dat 30 mense soontoe geneem is vir behandeling.
Meeste het gebreekte bene gehad.
Verder het ‘n amptenaar van die Yichun Rehabilitasie Hospitaal bevestig dat 10 mense soontoe geneem is met brandwonde.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP