36 sterf ná tenker, bus in China bots
2012-08-26 09:32
Beijing – Minstens 36 mense is dood in China nadat 'n tenker wat metanol vervoer het, en 'n dubbeldekker-bus gebots het, het beamptes gesê.
Albei voertuie het aan die brand geslaan en slegs drie van die 39 mense aan boord van die bus het die ongeluk, wat omstreeks 02:00 plaasgevind het, oorleef het die Xinhua-nuusagentskap berig.
Altesaam 36 lyke is uit die wrak van die bus verwyder en drie mense is hospitaal toe geneem.
Dit was die ergste ongeluk in China sedert 'n brand op 'n oorlaaide bus, wat vlambare chemikalieë vervoer het, verlede jaar die lewe van 41 passasiers geëis het.
Inligting oor Sondag se ongeluk is nog vaag.
Yue Jiuxiang, 'n beampte van die plaaslike verkeerspolisie, het gesê die meeste van die passasiers in die bus het ten tyde van die ongeluk geslaap.
"Die bus het kort ná die ongeluk begin brand," het hy aan die staatsuitsaaier China Central Television gesê.
"Die voorste gedeelte van die bus is erg beskadig. Die meeste van die passasiers het ten tyde van die ongeluk geslaap, dit is hoekom so baie mense dood is."
Yue het gesê die bus het vanaf Baotou na Xian, die provinsiale hoofstad van Shaanxi, gereis toe die ongeluk plaasvind.
Die polisie ondersoek die oorsaak van die ongeluk.
"Ek kan bevestig dat die dodetal nou 36 is. Ek het geen verdere inligting nie," het 'n regeringsamptenaar met die van Liu aan AFP gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA