36 oorleef Venezuela-vliegramp
2010-09-14 03:41
Caracas – 15 mense is Maandag dood in ‘n vliegongeluk in Venezuela, maar 36 ander het wonderbaarlik oorleef nadat die loods die lugverkeer-beheertoring in kennis gestel het dat iets fout is, oomblikke voor die ramp getref het.
Die vliegtuig, met 47 passasiers en vier bemanningslede, het byna in die helfte gebreek en in vlamme uitgebars voordat dit die grond getref het naby ‘n staal-aanleg wat deur die Sidor-groep in die Bolivar-staat besit word.
“Altesaam het ons 36 oorlewendes en 15 dooies. Daar word na die oorlewendes omgesien,” het die minister van vervoer en kommunikasie, Francisco Garces, gesê.
“Gegewe die toestand van die vliegtuig dink ek ons was baie gelukkig.”
Die meeste van die oorlewendes het brandwonde opgedoen en is deur die gebeure getraumatiseer, maar niemand was in ‘n kritieke toestand nie, het Garces gesê.
Die Conviasa Lugdiens ATR-42-300-vliegtuig het ongeveer 10 kilometer van Puerto Ordaz neergestort. Die oorsaak van die ongeluk is nog nie duidelik nie.
Beamptes het gesê die vinnige reaksie van die nooddienste, nadat die loods die lugverkeer-beheertoring in kennis gestel het dat die vlug in die moeilikheid was, het ‘n hoër sterftesyfer verhoed.
Reddingswerkers was vinnig op die toneel, met mediese helikopters byderhand om die beseerdes na plaaslike hospitale te neem.
- Sapa - AFP