305 dood op bloedigste dag van Siriese opstande
2012-09-27 13:40
Damaskus – Meer as 305 mense is Woensdag regoor Sirië dood.
Dít maak dit die bloedigste dag van die 18 maande lange opstande, het die Siriese Waarnemers vir Menseregte gesê.
"Dit is die hoogste dodetal in 'n enkele dag sedert Maart 2011. En dit is slegs deur die name van diegene te tel wat gedokumenteer is. As ons die lyke moet tel wat nog nie geïdentifiseer is nie, sal die dodetal baie hoër wees," het Rami Abdel Rahman, direkteur van die waarnemers aan AFP gesê.
Altesaam 199 van Woensdag se slagoffers was burgerlikes, het die Britse gebaseerde waghond gesê.
In die oostelike stad Deir Ezzor is 23 mense, waaronder 'n kind en vrou dood.
In Damaskus is 17 mense insluitend agt vroue en drie kinders in die noordelike Barzeh-woonbuurt doodgeskiet, het die waghond gesê.
Veertien ander mense is dood nadat twee bomontploffings die Siriese weermag se hoofkwartiere getref het.
Veertig lyke, waaronder dié van vroue en kinders, is buite die hoofstad in die dorp Diabeya gevind.
Die vorige hoogste dodetal sedert die opstande was op 19 Julie toe 302 mense vermoor is.
Meer as 30 000 mense is weens geweld dood sedert die opstande teen pres. Bashar al-Assad se regime in Maart begin het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP