300 vas vir aanvalle op Boeddhiste
2012-10-02 17:06
Dhaka – Die polisie in Bangladesj het Dinsdag gesê sowat 300 mense is in hegtenis geneem nadat Moslem-groepe tempels en huise aangeval het.
Boeddhistiese leiers beskryf die voorval as die ergste geweldpleging teen die gemeenskap sedert onafhanklikheid.
Altesaam 162 mense is in Cox’s Bazaar in hegtenis geneem. Dié gebied het die swaarste gely onder Saterdag- en Sondagaand se aanvalle, het Shorshed Alam, ‘n senior polisiebeampte in die streek, gesê.
Altesaam 76 mense is ook in Chittagong in hegtenis geneem en 36 in die Bandarban-streek, het plaaslike polisiebeamptes gesê.
Volgens Alam is 11 tempels in Cox’s Bazaar aan die brand gesteek en sewe in die streek is beskadig of geplunder.
Minstens 20 Boeddhistiese tempels is ook aan die brand gesteek, tientalle winkels is geplunder en sowat 100 huise is beskadig tydens die aanval wat Saterdag ná middernag in Ramu-dorp begin het. Sowat 25 000 Moslems het hieraan deelgeneem.
Die geweld het later na vyf dorpe en sowat 12 nedersettings versprei ná bewerings dat ‘n jong Boeddhistiese seun lasterlike foto’s van die Koran op Facebook gelaai het. Op een foto word ‘n bladsy van Islam se heilige boek gewys waar dit by ‘n toilet afgespoel word.
Die polisie sê die aanval is “georganiseer” ná berigte dat baie van die aanvallers met busse ingery is.
Mohiuddin Khan Alamgir, die minister van binnelandse sake, blameer radikale Islamiete vir die aanvalle, maar geen groepe of partye is genoem nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP