27 joernaliste dood in massamoord
2009-11-25 12:36
Manila – Ongeveer 27 Filippynse joernaliste was slagoffers van 'n massamoord waarin meer as 50 mense gesterf het, het 'n streekpolisiehoof Woensdag gesê.
Supt. Josefino Cataluna het gesê die aantal joernaliste wat tydens die voorval dood is, kan steeds toeneem.
Nie al die slagoffers van Maandag se moorde in die dorp Ampatuan, in die provinsie van Maguindanao, is al uitgeken nie.
Die joernaliste het saam met die vrou en twee susters van die adjunk-burgemeester, Esmael Mangudadatu, gereis toe die voorval plaasgevind het.
Mangudadatu was oppad om 'n sertifikaat in te dien vir sy verkiesbaarheid in die komende verkiesing in Maguindanao.
Mangudadatu het ‘n vroulike span gereël om hom te vergesel ná hy glo doodsdreigemente uit die kamp van die goewerneur van Maguindanao, Andal Ampatuan sr., gekry het.
Ampatuan se seuns is die burgemeesters van verskeie dorpe in die provinsie.
Die slagoffers se konvooi is deur sowat 100 gewapende mans gekaap.
Die groep was onder leiding van Andal Ampatuan jr., die goewerneur se seun.
Die konvooi is na ‘n dorpie geneem waar hulle doodgemaak was.
“Nog nooit in die geskiedenis van joernalistiek het die nuusmedia só groot verlies in een dag gelei nie,” het die mediawaghond Reporters Without Borders gesê.
- Sapa-dpa