26 babas sterf in Indiese hospitaal
2012-01-22 16:54
Kolkata – Minstens 26 babas het in die afgelope vyf dae in ‘n staatshospitaal in Indië gesterf, het owerhede Sondag gesê.
Die hospitaal in Malda, wat sowat 340 km noord van Kolkata geleë is, word van nalatigheid beskuldig terwyl hospitaalbeamptes beweer dat die babas ondergewig en sommiges “terminaal siek” was.
“Die dodetal het na 26 gestyg toe nog twee babas Sondag gesterf het,” het Biswa Ranjan Satpathi, direkteur van die staat se gesondheidsdienste, aan AFP gesê.
“Die meeste van hulle was ondergewig en het aan verstikking by geboorte gely.”
Die meeste van die babas wat terminaal siek was, was van nabygeleë distrikte en state na die Malda-hospitaal verwys, het Satpathi bygevoeg.
Hy sê die hospitaal net slegs 60 bababeddens, wat skaars genoeg is om met die toename in pasiënte by te bly.
“Meer as 14 000 babas is oor die afgelope drie maande by die hospitaal opgeneem. Die hospitaal het nie die infrastruktuur om so baie babas te behandel nie,” het hy gesê.
In Junie het minstens 17 babas oor die tydperk van 36 uur in ‘n ander staatshospitaal in Kolkata gesterf.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP