23 Vroue vas vir kinderpornografie
2011-10-18 22:05
Stockholm – ‘n Sweedse hof het 23 vroue en een 43-jarige man skuldig
bevind op aanklagte van kinderpornografie.
Die Falu-distrikshof het die vroue boetes van $380 (sowat R3 025) tot $2 700 (sowat R21 486) en gevangenisstraf opgelê.
Die 43-jarige man is gevangenisstraf van een
jaar opgelê vir die besit en verspreiding van kinderpornografie.
Volgens die hof het die man seksueel eksplisiete
videomateriaal en foto’s van kinders aan die vroue gestuur.
Hy het dié foto’s en beeldmateriaal aanlyn met
die vroue bespreek.
Party van die vroue het gesê dat hulle hou van die
beelde, terwyl ander hul seksuele fantasieë oor kinders met die man gedeel
het.
Een vrou het sélf pornografiese beelde van
kinders aan die man gestuur.
Die foto’s en videomateriaal was van kinders,
tieners en selfs peuters.
Die man het die internet gebruik om met die
vroue in kontak te kom en het seksuele verhoudinge met bykans helfte van hulle
aangeknoop.
Die vroue het egter glad nie kontak met mekaar
gehad nie.
Die meeste van die vroue het die aantygings teen
hulle ontken en gesê dat hulle rekenaars seker deur ander mense gebruik is.
Van die vroue het ook bloot gemaak asof hulle
niks daarvan kan onthou nie.
Dié verweer dra volgens 'n prokureur van een van die beskuldigdes water, aangesien baie van die interaksie
tussen die man en vroue sowat vyf jaar gelede plaasgevind het.
Die hof het kennis geneem van die feit dat
die meeste van die vroue besig was om deur een of ander trauma te werk en desperaat
was vir menslike kontak.
“Alhoewel hulle verantwoordelikheid vir hul
dade moet aanvaar, is dit duidelik dat hy (die 43-jargie man) hul swak geestestoestand uitgebuit het,” het die hof gesê.
Dit is die eerste saak van kinderpornografie waarin so 'n groot aantal vroue betrek word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP